Openings toespraak - uitstalling 2009 (Ilse van Staden)


Wonings, węrelde en werklikhede

Goeiemôre, almal en baie welkom by hierdie uitstalling. Welkom in hierdie wonderlike huis en welkom in Marcella se węreld.

In die hedendaagse lewe waar ons almal in ’n sogenaamde “węrelddorpie” woon, kan mens dalk in die versoeking wees om te begin glo in een algemene węreld, een werklikheid wat vir almal geld. Kyk ons egter na Marcella se skilderye, is dit asof sy ons wil attent maak op die bestaan van ’n veelvuldigheid van węrelde. Werklikhede verskil. En hoekom? Ons SIEN net anders, wanneer ons anders KYK. Die kunstenaar het hier ’n dubbele funksie. Eerstens om self anders te kyk en haar eie węrelde aan ons bekend te maak, węrelde van herinnering of węrelde van verbeelding. Ten tweede, moet sy die węrelde wat ons dink ons self ken, vir ons “vertaal”, sodat ons saam met haar met ander oë daarna kan kyk.

Daar is natuurlik ’n oneindige hoeveelheid sulke węrelde en werklikhede, maar kom ons kyk na ’n paar daarvan wat ons in die skilderye teëkom.

Ons begin by iets alledaags, iets skynbaar doodgewoon – die drie Gelukkige huisvrouens. Wat kan nou meer vervelig wees as die węreld van die huisvrou, watter werklikheid meer ontnugterend? Tog wys Marcella ons dat daar selfs hier ander dinge verskuil lę, ’n vreugde van oorvleuelende werklikhede. Die gelukkige kok kook ’n hele fantasie los van vreemde diere en jolige koetsryers, alles binne die bestek van haar eenvoudige kombuis. Die gelukkige skottelgoedwasser tap haar water uit ’n oseaan vol meerminne en Die gelukkige veër is skynbaar besig met ’n besemdans deur ’n Escher-agtige węreld van getoorde mure, vloere en vensters.

Die “węreld van die kind” het al byna ’n cliché geword en mens wonder soms wanneer jy nou oud genoeg is om daardie węreld te verlaat. Marcella sę dat mens dit nooit hoef te verlaat nie, dat jy dit nooit moet verlaat nie. Mens moet nooit die paspoort na jou kinderwęreld opgee of laat verval nie.

Die pad na kindwees word in hierdie skilderye ’n dubbele reis. Dit is ’n plek van herinneringe: kinders wat speel, kinders se intense omgang met hul omgewing, met die natuur, kinders se verlange na iemand of iets, kinders se onwrikbare geloof in geluk (“happiness”). Dit is ook ’n plek van fantasie, van die monster onder die bed of die engel daar langsaan. Waar wonderlike wesens kinders beskerm (soos in Keeping an eye), waar ’n voëlkou wemel van vreemde kreature (Boy drawing a bird cage), waar ’n storm werklik ’n oog kan hę (Eye of the storm), waar maskers in ’n tuin opkom soos blomme (Masked garden), waar ’n muntstuk in ’n masjien geluk kan bring (Happiness machine). Daar is natuurlik volwassenes wat ook in so ’n masjien glo!
Ja, fantasie is natuurlik nie net beperk tot die kinderwęreld nie. In elke kultuur is daar ’n magdom mites en legendes. Dit is nie net stories nie, dit is gebeure wat afspeel in ander realiteite of werklikhede. Marcella brei die kanon uit deur haar eie mites te skep. Soms is dit parallelle realiteite, die spoke wat jy net uit die hoek van jou oog kan sien, soos in Mite van die reënvoël en Mite van die geheime hand. Soms is dit suiwer fantasie, maar met raakpunte aan ander mitologieë en simbole, soos die Mite van die ouroboros en Mite van die siel se reis.

Die skilderye word dus brűe na ander węrelde wat ons self ót te onbevoeg is om te bereik óf te bang. Dit gaan inderdaad nie net oor vrolikheid en vreugde nie. Daar is ook vrese wat ons deur die skilderye in die oë kan kyk. Die kunstenaar vertaal dit vir ons, verbeel en verbeeld dit en gee ons so die vermoë om dit te kan aanskou. Sy is ons onderbewussyn wat ons deur droombeelde saggies konfronteer met die dinge wat ons eintlik nie wil sien nie.

Kyk byvoorbeeld na die drie dood-skilderye, Die dood is ’n mooi blou blom I, II & III. Ons sien dat die dood dan tog nie so verskriklik is nie, dit is hanteerbaar, omskryfbaar. Dit is bloot nog ’n węreld, nog ’n realiteit, ’n rare blou blom. In Sonsondergang ontgin Marcella weer die onderliggende dierlikheid van elke mens, daardie vrees om beheer te verloor, om dier te word. Selfs eensaamheid word besweer. In die Glastuin kan mens jouself omring met ’n labirint van refleksies van ’n tuin, ęrens om te skuil teen die barre węreld.

’n Refleksie is ook ’n manier van kyk, al is dit dan “soos deur ’n spieël in ’n raaisel”. In Die waters onder die aarde word ’n werklikheid onvolmaak weerspieël en kan ons onsself net-net verbeel dat ons iets van ’n geheimenis leer ken het. Ek glo dat Marcella se skilderye ons almal weer sal laat kyk – met ander oë, deur ander vensters, deur spieëls en raaisels – en dat ons iets hier sal vind van veelvuldige werklikhede en miskien ook ’n stukkie geheimenis.

© marcella de boom 2007

Printable page